IMG_5654

13 Mei 2016

Verskans jou gewas teen te min reën!

ʼn Bekende graanhandelaar het ʼn afgeleide instrument wat graan-, groente-, vrugte-, en veeboere kan uitneem om hulself teen te min reën asook ongunstige temperature te verskans!

Die impak van die wisselvallige weerpatrone maak amok in die landbou. Dit noodsaak dat rolspelers in dié bedryf dringend na alternatiewe begin soek om aan almal in die sektor alternatiewe vorme van risikobestuur te voorsien.

Die graanhandelaar BVG het na wye soektogte op ‘n alternatiewe manier afgekom om sy kliënte te help om hulle beter teen klimaat-gebaseerde risiko’s te verskans.

Mnr. Hans Smit, risiko-analis van BVG sê dié alternatief is die Weer Indeks Afgeleides (WIA). “ Dit klink na ‘n mondvol en vreeslik kompleks, maar ons kan almal sommer onmiddellik gerusstel dat dit baie maklik is om te gebruik én te verstaan.”

Die WIA word onder die handelsnaam WeatherInDe (Weather Index Derivatives) bemark.

Smit sê die WIA werk op dieselfde beginsel as gewone afgeleides wat in die mark gekoop kan word – net soos “put”- en “call”-opsies op die graanmark verhandel word, verkoop ons dié opsies, maar net op die weer. “Ja jy het reg gehoor: Ons verkoop opsies vir die weer!”

Wat is ‘n weer-opsie?
n Weer-opsie word op dieselfde wyse as ‘n graan-opsie saamgestel. Die voornemende kliënt/koper moet enkele besluite daaroor neem. Die eerste is waarvoor die opsie geskryf word, reënval of temperatuur.

Die tweede besluit is die tydperk waarin die opsie geldig is, met ander woorde die begin- en die sluitingsdatum. Die derde besluit is waarteen die opsie gemeet en geprys word. Op die graanmark word die “future”-prys gebruik om te bepaal of die opsie uitbetaal en of dit as waardeloos verval. In die weer-mark word die uitbetaling van die opsie bepaal deur die meting van klimaatsomstandighede, hetsy dit reënval of temperatuur is.

So, indien die reënvalsyfers/temperatuur metings wys dat jou opsie geldig is, betaal die opsie uit, anders verval dit as waardeloos.

Smit verduidelik met ʼn voorbeeld: Gestel ‘n mielieboer in die Vrystaat benodig 100 mm reën tussen 1 Oktober en 30 November om genoeg vog te hê om te kan plant. Hy kontak WeatherInDe vir ‘n kwotasie om ‘n opsie te koop om hom teen droogte te verskans. Die boer koop dan ‘n reënval “put”-opsie. Dié opsie word dan volgens die boer se spesifikasies en benodigdhede opgestel om aan sy behoeftes te voldoen.

R10 000 vir elke millimeter
Die boer besluit byvoorbeeld indien hy minder as 100 mm reën in dié tydperk kry, hy ʼn uitbetaling van R10 000 benodig vir elke mm wat dit minder as 100 mm reën. Hy koop die opsie en betaal die volle opsie-bedrag, so daar is geen marge wat gedra word nie. Wat is die koste van die opsie?

Smit sê elke opsie word individueel geprys: “Net soos gewone opsies is daar baie faktore wat die prys beïnvloed. Dit sal dus misleidend wees om hier ‘n koste te noem.”

Ná die verloop van die kontrak word die totale reënval vir die tydperk van die dataverskaffers ontvang en dan word die kontrak afgehandel. Indien dit méér as 100 mm gereën het, verval die opsie as waardeloos, maar indien dit minder as 100 mm gereën het, word die boer R10 000 vergoed vir elke mm wat dit minder as 100 mm gereën het.

As dit slegs 80 mm gedurende dié tydperk gereën het, sal die boer R200 000 ontvang: (100 – 80) × R10 000 = R200 000.

blog1

 

Smit sê kan dit so maklik wees? Waar is die vangplek? “Dit is gewoonlik die eerste vrae wat boere vra en in die huidige finansiële klimaat is dit baie nuttige vrae, want om ‘n ingeligte besluit te neem, moet die kliënt die produk verstaan.

“Om die eerste vraag te beantwoord, ja dit is so maklik: Ons bou die Weer Indeks Afgeleide om elke boer se situasie en sak te pas, dus is elke weer-opsie uniek.

“Om die tweede vraag te antwoord: Die grootste sogenaamde “vangplek” bly die verskaffing van data. WIA steun op historiese data oor die laaste 25 jaar, en dié data moet ook deur onafhanklike dataverskaffers verskaf word om niemand te bevoordeel nie.

Haalbare oplossing
“Gelukkig bestaan ‘n haalbare oplossing. Die reënvaldata word verskaf deur NAOO (NASA) se satelliet-data. Dié data word verskaf in blokke van 10 km by 10 km is beskikbaar vir die laaste 25 jaar. Die WeatherInDe-handelaar bespreek dié data met die boer om sodoende te verseker dat dit met sy eie eie data vergelykbaar is en dat afgeleide se pryse daarvolgens bepaal word.”

Volgens Smit is daar ook verskeie grondstasies wat deur onafhanklike dataverskaffers bestuur word, en dié data word hoofsaaklik gebruik om WIA te prys, wat op temperatuur gebaseer word. So, reënval is nie die enigste afgeleide nie. “Ons verkoop ook opsies op temperatuur om die kliënte te help om hulleself te verskans teen ekstreme temperature.”

Die Weer Indeks Afgeleides is ‘n groot nuwe sprong in nie net die landboubedryf nie, maar skep ook vir die konstruksie- en versekeringsbedryf nuwe oplossings om hulself teen ongure weer te verskans.

Vir meer inligting, kontak Hans Smit of Pieter Hurter by 012 484 4040 of stuur ‘n e-pos na wd@bvg.net

Bron: Landbou.com